Vrydag 19 Desember 2003 bl. 6 Beeld JOHANNESBURG FINAAL Foto: volkleur Onderskrif: Regter Pierre Olivier (67) Regter in appèlhof veras ná kankerstryd Liezl Scholtz Bloemfontein. -- 'n Bekende in regskringe word vandag veras nadat hy Dinsdag ná 'n lang stryd teen kanker in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein dood is. Regter Pierre Olivier (67), ten tyde van sy dood 'n regter in die appèlhof, was volgens sy vrou, Helene, die afgelope drie weke in 'n ernstige toestand in die hospitaal. Olivier, 'n boorling van Namibië, het die grade B.A. Regte en LL.B.aan die Universiteit van Pretoria behaal en is in 1961 as lektor in die departement Romeins-Hollandse reg by dié universiteit aangestel. Olivier was ook die skrywer van die eerste handboek in Afrikaans oor mense- en familiereg. Hy het in 1973 as advokaat in Bloemfontein begin werk en is ongeveer 20 jaar later as appèlregter aangestel. Mev. Sheila Camerer, DAwoordvoerder oor justisie, het haar waardering uitgespreek vir die groot bydrae wat Olivier tydens Suid-Afrika se oorgangstydperk na 'n demokratiese regering gelewer het. Camerer het ook Olivier se "enorme" bydrae tot die grondwet-onderhandelingsproses uitgesonder en gesê Olivier was 'n "gedugte intellek". Olivier word tydens 'n private diens in Bloemfontein veras. 'n Roudiens word om 14:00 vandag in die NG kerk Bloemfontein-Noord in die stad gehou. Benewens sy vrou word hy oorleef deur vier seuns, Sven van Kaapstad, Nielen van Bloemfontein, Brendan en Alvar, albei van Pretoria, en sewe kleinkinders.